Wednesday, November 17, 2010

LETTER FROM DR JOHAN MINNAAR

Dr Johan Minnaar's letter that appeared in Rapport newspaper following the Chameleons Montessori articles:


Eerstens wil ek vir Marlene Malan van Rapport geluk wens met die reeks artikels wat sy gepubliseeer het oor die gebruik van gifstowwe teenaan ‘n skool in Durbanville. Baie min mense het die moed om oor die onderwerp te praat of te skryf. Wanneer jy waag om dit te doen, word ernstige pogings aangewend om jou so vinnig moontlik stil te maak of dit word afgemaak as snert of les bes, “daar is geen wetenskaplike bewyse” daarvoor nie!
Is dit nie betreurenswaardig dat mense so blind en doof kan wees vir die waarheid nie! Die spreekwoord lui nie verniet, “daar is niemand so blind soos hy wat nie wil sien nie, en niemand so doof soos hy wat nie wil hoor nie!”

Ek is bekommerd  as ek die artikels lees, veral in landbou areas, waar dieslefde probleme oor en oor kop uitsteek, ek dink maar aan ‘n paar plekke, Groblersdal, Riebeek Kasteel, Vaalharts, Marble Hall, Stellenbosch, Paarl en Jacobsdal. Is dit dan nie ‘n klinklare bewys dat gifstowwe ‘n gesondheidsgevaar inhou vir mense wat daar naby woon of met dit werk nie?

Ek, as mediese praktisyn, is baie bekommerd oor almal wat op plase werk, woon en skoolgaan, boere en plaaswerkers met hul gesinne,  en ander in nabygeleë landbouareas wat daagliks onwetend en onbewustelik aan verskeie landbouchemikalieë blootgestel word.

Ek het reeds 4 jaar gelede met verskeie staatsdepartemente (Gesondheid, Landbou, Onderwys, Waterwese, Arbeid, asook die Industrie, AVCASA, ACDASA, Croplife in gesprek getree met betrekking tot die probleme van landbouchemikalieë in die Groblersdal area en die effek wat dit op die omgewing, water en menslike gesondheid het.  Ek het voorgestel dat daar in die toekoms gekyk moet word na woongebiede en skole naby of tussen landbou areas. Bufferzones, lugbespuiting naby woongebiede ens, nodeloos om te sê, ek wag nou nog op terugvoer.

Miskien het dit tyd geword dat daar opgetree moet word teen die verskeie departemente. Ek het op verskeie vergaderings met dept landbou en die industrie versoek dat daar op die etikette  van gifstowwe moet verskyn dat dit  neurotoksies, karsinogenies, hormoonversteurders, inferteliteit ens kan veroorsaak. Onnodig om te meld dat hulle glad nie geneë met my voorstel was nie, aangesien dit sekerlik tot ‘n daling in verkope sal lei. Persoonlik voel ek dat dit krimineel is om sulke noodsaaklike inligting van die verbruiker en die publiek te weerhou.  Dit is juis dié mense wat  daagliks daarmee werk en in kontak kom op plase, by skole, huise, troeteldiere ens, wat nie werklik ingelig word oor die gevaar van plaagdoders nie. Verder bestaan daar ‘n groot gebrek aan kennis wat betref die gevare van kroniese lae dosis blootstelling en die effek op die omgewing en menslike gesondheid. Ongelukkig word die uitwerking van gifstowwe jare later eers gesien, met tragiese gevolge.

Gif word nooit aan sekere siektetoestande gekoppel nie, want die beeld word uitgedra dat dit  “redelik veilig” is, want sommige gifstowwe kan sommer vanaf die winkelrak gekoop word, selfs kinders het toegang tot “soms baie gevaarlike gifstowwe”. Verder word dit ook as “veilig” bemark solank daar volgens die etiketvoorskrif gewerk word. Hierdie aspek het ek ook 3 jaar gelede met dept landbou bespreek, maar dít het ook op dowe ore geval!

Ek het persoonlike ondervinding en ervaring van die effek van gifstowwe op my gesondheid en die van my pasiënte opgedoen in die omgewing waar ek woonagtig is, Groblersdal. Ons het ook met kroniese siek kleuters gesit. Kinders is meer sensitief en reageer vinniger as volwassenes op gifstowwe. Hulle asem dieselfde konsentrasie in, maar hul liggaamsoppervlakte is soveel kleiner.
Voor 2006 het ek baie pasiënte verkeerd gediagnoseer wat herhaaldelik met dieselfde simptome en klagtes van hoofpyne, duiseligheid, naarheid, erge moegheid by my gekonsulteer het.

Alles het vir my duidelik geword nadat ek fakse van die lugbespuitingsoperateur ontvang het en ek eers begin ondersoek doen en uitgevind het van waar en waarmee gespuit word. Wanneer ek dan die gifetiket se newe effekte soos hoofpyn, duiseligheid, moegheid, diaree, sinus, rooi oë, gesigspiere wat spring (fassikulasies), bewe (tremor) lees, kon ek makliker diagnoses van vergiftiging maak deur te vra waar die pasiënt woon of werk, en of daar met gif gespuit is al dan nie.

Chemiese patoloë het my aangeraai om ‘n bloedtoets “RBS – Rooibloedsel-cholienesterase” te monitor. ‘n Ensiem in ons liggame wat geaffekteer word deur organofosfaat en karbamaat gifstowwe. ‘n Daling van 30% dui op akute organofosfaat /karbamaat vergiftiging. Ons ensiem het met tye gedaal tussen 20% en 35%. Skokkend hiervan is die feit dat ons nie met gif werk nie, dit is die daling wat veroorsaak is deur die gif wat ons onwetend vanuit die omgewing inasem. Die resultate uitgebeeld op ‘n grafiek dui dan op ‘n lae dosis chroniese blootstelling met episodes van akute vergiftiging wanneer daar gespuit is en daar ‘n skerp gifreuk in die dorp teenwoordig was. Dit was vir my skokkend toe ek in 2009 die verslag vanaf Dept Waterwese en Bosbou ontvang waarin ‘n grafiek van al die lugbespuitings wat gedoen is oor die tydperk asook ‘n grafiek van die gifstowwe wat die meeste gebruik is vir lugbespuiting vir die ooreenstemmende  tydperk,  nl karbamate, organofostate en verskeie ander gifstowswe. Die grafiek van die aantal lugbespuitings het die presiese teenoorgestelde verloop gehad as die van die ensiemwaardes, met ander woorde: hoe meer lugbespuitings in ‘n maand toegedien was, hoe laer die ensiem. Hoe minder lugbespuitings, hoe hoër die ensiem. Hierdie was vir my ‘n klinkklare bewys van die blootstelling aan organofosfaat/karbamaat gifstowwe vanuit die omgewing.

Dit was nie soseer die simptome op die etiket wat my bekommer het nie, maar die langtermyn gevolge wat nie op die etiket verskyn nie, nl kroniese respiratoriese probleme, neurologiese versteurings (ADHD, Autisme, Parkinson’s, Altzheimers), kanker  sien www.chemtrust.org.uk, “A review of the role pesticides play in some cancers: children, farmers and pesticide users at risk?”,  ontwikkelingsversteurings, effek op fertiliteit, geboortedefekte, miskrame, stilgeboortes, velsiektes, immuunonderdrukking, genetiese afwykings, hormoonversteurings (estrogeen, progestoroon, testosteroon, tiroïed ens). Sien “Our Stolen Future” http://www.ourstolenfuture.org/basics/chemlist.htm

Ek was bekommerd oor die water in die omgewing en het die dept Waterwese genader om ‘n studie te doen. Hierdie verslag “Report on an assessment of agricultural pesticides in the upper Olifants river catchment” is in my besit en beskikbaar vanaf die departement Waterwese en Bosbou, Eerste uitgawe Oktober 2008. Skokkend was dat gifstowwe wat reeds verban is, nog in die water opgetel is nl. DDT, Monocrotophos en arseenvlakke vêr bo die WGO standaarde. Ek is tans in afwagting op die lugmoniteringsverslag, hoop om die verslag onder oë te kry!

Vir verdere inligting kan u gerus gaan kyk na die “Agricultural Health Study” http://aghealth.nci.nih.gov/ wat  reeds vir die afgelope 17 jaar gedoen word, waarby 89 000 mense betrek is bestaande uit plaaswerkers, -gesinne, plaagbeheer operateurs betrek is.

Ek verwys ook na die “Chemical Exposure Linked to Gulf War Veterans’ illness, “Gulf War Syndrome” http://www.beyondpesticides.org/dailynewsblog/ (Beyond Pesticides, March 13, 2008) wat die langtermyneffek van gifstowwe (veral organofosfate) uitlig en beklemtoon.

Verder verwys ek na die verbanning van die gifstof “Chlorpyrifos” in Suid-Afrka waarby ek in Junie 2010 betrokke was. Hierdie gifstof is reeds in 2000 in ander lande (ontwikkelde) verban as gevolg van die toksisiteit op menslike gesondheid, die ontwikkelende kind en fetus.  In Suid-Afrika eers 10 jaar later. Ek het gevra vir ‘n totale verbanning, maar dit is steeds toelaatbaar  vir landbou gebruik. Dis vir my onduidelik waarom hierdie besluit geneem is, aangesien dit ewe toksies is vir boere, plaaswerkers en hul gesinne. Kyk gerus na die nuutste inligting oor chlorpyrifos “Critical window of development” http://www.criticalwindows.com/go_display.php en besluit self! Skokkend dat ons onsself, ons kinders en ongebore baba’s hieraan blootgestel het!

Ek sê altyd gif is vandag veilig, oor ‘n paar jaar word die gebruik daarvan beperk en nog ‘n paar jaar later word dit verban as gevolg van die newe effekte op menslike gesondheid en die omgewing. Hierdie stelling is al oor en oor bewys. ‘n Sprekende voorbeeld hiervan is die alombekende Chlorpyrifos, Monocrotophos, DDT ens.

Die vraag is, “Is geregistreerde gifstowwe veilig?” NEE. Redes hiervoor is die volgende:
1.    Baie van die “veiligheidstoetse” wat gedoen word op die produkte is onvoldoende.

Daar word getoets vir die akute (nie kroniese) effekte van ‘n enkele (nie ‘n mengsel) chemikalieê op gesonde (nie siek, chemies sensitiewe,immuun-onderdrukte ens) volwasse (nie fetusse en jong) diere (nie mense) oor ‘n kort (nie lang) periode van tyd.

2.    Melding van “Inerts” word nêrens op die verpakking aangebring nie. Sommige van hierdie “inerts” is meer toksies as die aktiewe bestanddeel wat wel genoem word.

Sommige gifstowwe word selfs meer toksies soos wat dit  afbreek in die omgewing. Die verbruiker bly oningelig oor die ander chemikalieê in die mengsel, alleenlik die aktiewe bestanddeel word aangedui op die etiket. So bv is daar gifstowwe waarvan reeds bewys is dat die kleefmiddels (inerts) meer toksies is as die aktiewe bestanddeel.

Wanneer ‘n mens eers begin, weet jy nie waar om op te hou nie want daar is net eenvoudig so baie inligting. Ek kan aangaan en aangaan. Verder wil ek dit ook net beklemtoon dat ek in ‘n landbou omgewing woon, geen ander industrie of myne in die onmiddellike en direkte omgewing nie, behalwe landbou. Vir Dr Marais wil ek sê dat hy dalk moet kyk wat is in sy omgewing in Mosselbaai wat die mense siek maak.

Wat vir my onrusbarend is, is die feit dat die departemente en industrie bewus is dat gifstowwe gevaarlik is. Daar is reguit vir my in 2006 gesê, toe ek ‘n vergadering van SHE (Safety, Health and Environment Committee) wou bywoon, dat ek nie welkom  is nie, aangesien hulle ‘n bedryf het om te beskerm. Die industrie word beskerm, maar wat van menslike gesondheid. Geen geld kan gesondheid koop nie!

Vir my as geneesheer gaan dit oor die oorsaak van mense se siektes  en nie net om die simptome te behandel nie.  As ons die oorsake kan elimineer gaan ons  baie gesonder mense en omgewing hê.

Ek sluit af met die aanhaling: “Chemicals have replaced bacteria and viruses as the main threat to health. The diseases we’re beginning to see as the major cause of death in the latter part of this century and into the 21st century are diseases of chemical origin”. Dick Irwin, Toxicologist at Texas A & M Universities.

Ek daag enige toksikoloog of persoon uit om my verkeerd te probeer bewys. Die groot probleem is nie die boer of enige persoon wat met die gif werk nie, maar die gebrek aan kennis en inligting by die persoon wat met die toksiese chemikalieë werk.

Ek hoop ek het baie van jul vrae en onsekerheid beantwoord.

Dr Johan Minnaar
Algemene Praktisyn
GROBLERSDAL